AKSENTUEER OF VERKLEINEER?

AKSENTUEER OF VERKLEINEER?

Waarom is ons as mense soms so geniepsig teenoor mekaar? Ons aksentueer tog so graag ander se foute terwyl ons ons eie foute probeer verberg.  My ma het altyd gesê: “Elke mens dra sy pakkie foute agter sy rug, maar hy sien die ander een aan met sy foute voor die bors.”

Ja, inderdaad:

  • Ons onderstreep en omkring die ander ou se foute met ‘n rooi pen.
  • Ons neem die glimpen (highlighter) en aksentueer die ander ou se fout met ‘n fosfor kleur sodat dit selfs in die donkerte sigbaar is.
  • Die skuld moet so gou as moontlik op iemand anders gepak word, sodat ons heeltemal onskuldig kan voorkom.
  • Ons stry dat dit bars om ons eie onskuld te bewys – dis altyd die ander een wat die fout in die verhaal is – net nie ék nie.

Dis so in kontras met wat die Woord ons leer, hoe die liefde van Jesus is. 1 Kor. 13:7 – “Dit bedek alles ..”  Die liefde van Jesus maak toe! Dis soos daardie een versekerings maatskappy se advertensie op televisie waar sulke groot doeke uit die lug oor die geboue val en toemaak.

Dis wat die Here Jesus gedoen het op Golgota. Hy het die skuld, die sonde; kan ons sê: Die foute van ons almal, van die hele wêreld op Hom geneem! Dink daaraan – Hý word die fout in die verhaal! Hý neem die skuld van almal op Hom terwyl Hy onskuldig is! Hý aksentueer Homself as die fout en steek ons foute weg. Hý verklein ons foute totdat daar niks van te sien is of meer oorbly nie (Jes. 44:22)!

Fil. 2:5 sê dat die gesindheid van die Here Jesus moet ook in ons as Sy volgelinge wees.

In my orkes dae het ons die gebruik gehad: As iemand ‘n fout maak, dan kyk die res van die orkes doelbewus weg van die persoon wat die fout gemaak het, sodat niemand in die gehoor kon agterkom wie die fout gemaak het nie. Is dit nie slim nie!? Is dit nie ook hoe ons as volgelinge van Jesus moet doen nie?

Die liefde van Jesus bedek, verberg, maak toe en delg uit!

GEBED

Here Jesus, ek bely dat ek so te kort skiet, maar verander my hart en gee my U gesindheid teenoor ander. Amen.