WAAR DIE TYRE DIE TEER TREF (3)

WAAR DIE TYRE DIE TEER TREF (3)

1 Tim. 5:4 (The Message) – “If a widow has family members to take care of her, let them learn that religion begins at their own doorstep and that they should pay back with gratitude some of what they have received. This pleases God immensely (ontsaglik, besonder).”

Veral hou ek van die woorde: “religion begins at their own doorstep.”
Dis ‘n valse beeld van vroomheid, wanneer mense groot uitreike reël vir daar ver, selfs in ander lande, maar in sy eie gemeenskap en onmiddellike omgewing is hy of sy ‘n nul op ‘n kontrak. Dis soos die man wat:

  • Die buurvrou se wasgoeddraad herstel, maar sy eie vrou se wasgoeddraad is stukkend en kort aandag.
  • Die Grieke in Griekeland wil bekeer, maar hy het nog nie eens die Griek in die kafee op die hoek, ‘n paar meter van sy eie huis, bearbei nie.

Of die vrou wat:

  • Die buurman se klere regmaak, terwyl haar eie man se klere gehawend is.
  • Skares toespreek oor hoe moet ‘n vrou liefde aan haar man bewys, terwyl haar eie man alleen by die huis sit en smag na ‘n bietjie aandag.

Mark. 5:19 – “Maar Jesus het hom dit nie toegelaat nie, maar vir hom gesê: Gaan na jou huis na jou mense toe, en vertel hulle watter groot dinge die Here aan jou gedoen het, en dat Hy jou barmhartig was.” Sien jy; ook Jesus het geglo, dat jy eers in jou eie huis begin, voordat jy ander daar buite kan gaan bearbei. So ook Paulus (1 Tim. 3:5): “Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra?”

Ek dank die Here elke dag vir die volmag en mandaat wat ons as gelowiges het in Mat. 28:19 om die hele wêreld in te gaan en die evangelie te verkondig aan alle mense. So was daar sendelinge deur die eeue wat na verafgeleë lande gegaan het en die grootste offers denkbaar gebring het om die heidene tot Christus te bekeer. Mag hulle offers en geloof ons altyd tot voorbeeld strek en ons hulle gedenk as helde van die kruis.

Maar met die nood op elke terrein wat hemelhoog is in elke gemeenskap; kry ek net al meer en meer die gevoel dat die klem, vanaf die “ver”, na die nood wat op ons voorstoep na ons roep, verplaas moet word en daar balans moet wees!

  • As ek nie die mense van my gemeenskap kan dien nie, kan ek ook nie die mense daar ver dien nie.
  • As ek nie die Here hiér plaaslik in die kleine kan dien nie, kan ek Hom ook nie daar ver in die massabyeenkoms dien nie!

Kom ons kyk waar is die nood, behoefte en onreg in ons eie gemeenskap en spring daar in. Wat van Saterdag met jou eie kerk se uitreikaksie saamwerk en deel wees van ‘n opelugdiens? Of as daar nog nie so iets is nie, dan gaan jy man-alleen met ‘n pak traktate en deel dit biddend uit onder die verbygangers.

GEBED

Here, stilbly en niks-doen, kan ons nie! Help ons om raak te sien waar die nood is en daar betrokke te raak in U Naam. Amen.