WAAR DIE TYRE DIE TEER TREF (1)

WAAR DIE TYRE DIE TEER TREF (1)

Ek is nie regtig ‘n persoon vir daar ver nie – waar ek niemand ken en niemand vir my nie. Dis moeilik om ‘n passie te hê vir die onbekende, vir die daar-ver-situasies en die naamlose en gesiglose mense. As ander dit wel het, is dit wonderlik en goed, maar ek is ‘n persoon vir hiér! Hier plaaslik waar die dinge om my gebeur elke dag. Waar ek beweeg en ek die nood in en om my dorp ervaar. Hier in my eie gemeenskap waar ek leef.

  • Waar die noodkrete van mense duidelik gehoor kan word.
  • Waar jy duidelik die honger in die straatmense se oë kan sien.
  • Die slingerende dronk man oor die straat waggel op ‘n Saterdagoggend en sy wynbottel op die sypaadjie stukkend val en hy langsaan gaan kniel en sy frustrasie uitsnik.
  • Waar die taxi’s jaag en die musiek oorverdowend blêr.
  • Waar die dorp op ‘n Saterdag namiddag se strate stil geword het en oortrek is met papiere en rommel.
  • Die ydellike gebruik van die Naam van die Here gehoor word.
  • Die haweloses as halfverkluimdes onder die afdakke en op kartonne moet oornag.
  • Waar die ongereddes om jou wemel en hulle nie besef hulle het nog nooit by die Here Jesus uitgekom nie.

Die geleentheidspreker, Louis Malherbe, was seker die eerste wat dié woorde gebruik het: “Daar waar die tyre die teer strike.” Dit sê presies waar God wil hê dat Sy kinders betrokke moet wees - die sout en lig in die gemeenskap. Nie soseer in lesingsale, konferensie sentrums of selfs in kerkgeboue nie. Maar op voetsoolvlak - daar waar die gewone man daagliks ‘n lewe of ‘n bestaan moet maak en oorleef.

Wat sal dit ons voor God baat om die grootste Christelike massabyeekomste in ons land te organiseer (Ek het niks daarteen – wat my betref hoe groter hoe beter.) maar op die tuisfront verroer weinig van ons ‘n vinger:

  • Om die lot van die behoeftiges te verlig.
  • Om die evangelie hier plaaslik te leef en te verkondig.
  • Om met sop en brood die hongerige op straat te voed.
  • Om misdaad te bekamp deur gebedswandeling of gebedsritte.
  • Om onregte in die gemeenskap reg te stel.

Maar kom ons sê dis nou die “ander” mense daardie wat so maak. “Maar jy ...” (Mat. 6:3) Ja, wat doen jý; daar waar die tyre die teer tref vandag?

GEBED

Here, waar ek mense teëkom vandag, het ek ‘n bedieningsgeleentheid. Laat ek hulle beter agterlaat in Jesus Naam. Amen.