ALLES WAT JY HOOR, PROE OF RUIK

ALLES WAT JY HOOR, PROE OF RUIK

Elkeen van ons kan doen, deur te luister wanneer die “groot ouens” praat. Hulle het dit immers gemaak in die lewe. Ons kan verseker iets by hulle leer. Mens sien dikwels aanhalings van hierdie beroemdes uit die verlede of selfs lewendes (celebrities) wat beskou word as lewende suksesse of “idols”. Dít was die dinge waaraan hulle vasgehou het in hulle opgangsfase en dit het hulle grootliks gehelp om suksesvol te word. Soos baie ander, versamel ek ook die sêgoed of aanhalings van hierdie hoë profiel figure in ‘n dokument op my rekenaar.

Op die radio is daar ‘n onderhoud gevoer met ‘n bekende dramaturg oor haar loopbaan as liedjieskrywer en verhoog persoonlikheid. Die bekende dame (A.S.) sê o.a.: “Alles wat ek hoor, proe of ruik sit ek om in my skryfwerk.”

Hierdie dame wat haar merk gemaak het in die teaterwêreld en die nommer een speelster vandag in S.A., het ook vir ons as gelowiges ‘n boodskap in ons loop met Christus nl.: Alles wat jy ervaar en beleef, wat jy hoor, proe of ruik; moet ek voor die Here ophou en vra:

  • Here, wat wil U vir my daardeur sê?
  • Is daar ‘n boodskap vir my?
  • Leer my vanuit my ervarings wêreld.
  • Swaai dit vir my geestelik.
  • Herinner my aan iets uit U Woord.
  • Watter lewensles is daar vir my?
  • Watter gelykenis of ooreenkoms is daar wat die Koninkryk van God betref?

As jy hierdie kuns kan bemeester, is die hele lewe een Goddelike ervaring en ‘n fees!

Uitgesluit die profetiese redes van Jesus oor die eindgebeure, was al Sy prediking vanuit dit wat Hy ervaar en waargeneem het. Nie ‘n enkele preek was uit ‘n teologiese handboek nie! Ons weet Hy was die grootste prediker ooit.

Hoe kosbaar as jou hele lewe Christus is en Christus jou hele lewe geword het (Fil. 1:21)!

GEBED

Wonderbare Here, ek wil voortdurend op gekoppel wees met U. In alles wil ek U grootheid sien en ervaar en beleef. Laat die eenvoudigste gebeure my teruvoer na U. Amen.